E-pos ons

FAQ

UP-studente was oor die laaste paar dae betrokke by onderonsies tussen verskeie studentegroepe en ook by latere voorvalle waar die polisie opgetree het teen studente wat buite die kampus betoog het. 'n Aantal studente is verlede week Vrydag deur die polisie in hegtenis geneem op grond van dade van openbare geweld wat buite die kampus plaasgevind het. Hierdie studente is op borgtog vrygelaat en moes vanoggend in die Landdroshof verskyn. Hul sake is uitgestel tot April.

Die Uitvoerende Bestuur van die Universiteit het hul kommer uitgespreek oor die deurlopende stel eise wat deur betogers gestel word, wat die goeie beheer en bestuur van die Universiteit in gedrang kan bring. Die kwessie tans ter tafel hou verband met die hersiening van die Universiteit se taalbeleid. Geen besluite is nog geneem met betrekking tot die aanvaarding of goedkeuring van die voorgestelde aanpassings nie. Die huidige taalbeleid sal in plek bly tot enige veranderinge aan hierdie beleid amptelik goedgekeur word.

Die voorstelle wat deur die taakspan gemaak is sluit die gebruik van Engels as die primêre onderrigtaal in, met Afrikaans en Sepedi  wat voorgestel word vir gebruik in die verskaffing van bykomende ondersteuning aan studente. Dit is in lyn met die voorstel dat die Universiteit meertaligheid moet bevorder as 'n middel tot die fasilitering van studentesukses en die bou van maatskaplike samehorigheid.

Bykomend tot die volgehoue besprekings, word alle personeel, studente, ouers en alumni aangemoedig om hulle kommentaar en terugvoer aan die Universiteitsbestuur te stuur deur middel van die kanale wat vir hierdie doel opgestel is.

Die Universiteit was vandag verplig om akademiese aktiwiteite op die Hatfieldkampus op te skort as gevolg van herhaalde dreigemente van ontwrigting en geweld. Die besluit is geneem omdat die veiligheid van ons studente en personeel deurgaans ons hoogste prioriteit bly. Protesaksie het deur die loop van die dag voortgeduur.

Ons het bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel en ons sal voortgaan om saam met die polisiedienste te werk om orde te handhaaf.

Ons het stelsels in plek om met studente en personeel te kommunikeer en sal alle belanghebbendes op hoogte hou van verwikkelinge. Studente word aangeraai om die beskikbare kanale gereeld te raadpleeg vir die jongste inligting.

Die Universiteit se bestuur beoog om met protesleiers te vergader ten einde 'n vreedsame oplossing vir die huidige situasie te vind.

 

- Deur Universiteitsbestuur
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Ansa HeylEdit
Nuutste inligting - 22 Februarie 2016