E-pos ons

FAQ
’Die lewe sou tragies gewees het as dit nie komies was nie’ – Stephen Hawking (1942–2018)
15 Maart 2018

Stephen Hawking was een van daardie besonderse wetenskaplikes wie se kommunikatiewe benadering tot teoretiese fisika daartoe bygedra het om die populêre begrip van die komplekse relatiwiteitsteorie en die idee dat gravitasiekolke (swartgate) straling vrystel. Hawking se teorieë het die studievelde van kosmologie, algemene relatiwiteitsteorie en kwantummeganika gekombineer. Sy boek, A brief history of time, wat in 1988 verskyn het en hierdie konsepte aan ’n nie-spesialis-gehoor bekendgestel het, het ’n rekordtyd van 237 weke op die Times of London se blitsverkoperlys verskyn. Tot op datum is meer as 10 miljoen eksemplare van dié boek al verkoop en is dit in meer as 40 tale vertaal.

Hawking was slegs 21 jaar oud toe amiotropiese laterale sklerose (ALS) by hom gediagnoseer is. Dié toestand het sy geleidelike verlamming tot gevolg gehad. Hy het sy wangspiere gebruik om met behulp van ondersteunde aanvullende kommunikasie te praat.

Hawking het sy voorgraadse studie aan die Universiteit van Oxford voltooi, en sy nagraadse studie aan die Universiteit van Cambridge voortgesit, waar hy later as die Direkteur van Navorsing in die Sentrum vir Teoretiese Kosmologie aangestel is.

Hy was ’n ondersteuner van die gebied van wetenskapskommunikasie en het wetenskaplikes aangemoedig om hul navorsingsbevindinge bekend te maak aan ’n wyer gemeenskap wat nie spesialiste of akademici is nie. In 2016 het hy die Stephen Hawking-medalje vir Wetenskapskommunikasie bekendgestel. Die komponis Hans Zimmer, die fisikus Jim Al-Khalili en die wetenskapdukumentêre program Particle Fever was onder die eerste wenners. In 2017 was die wenners Neil deGrasse Tyson, The Big Bang Theory en Jean-Michel Jarre.

Hawking het as homself opgetree in populêre-kultuur-televisieprogramme, onder andere Star Trek, The Simpsons, Futurama, The Big Bang Theory, en in verskeie dokumentêre films oor sy lewe. Sy stem was die agtergrondstem  vir ’n radioreeks gebaseer op die The Hitchhiker's Guide to the Galaxy en hy het ook Britse handelsmerke onderskryf.

Prof Konstantinos Zoubos, wat navorsing op die gebied van teoretiese fisika in die Departement Fisika by die Universiteit van Pretoria onderneem, onthou hoe hy A Brief History of Time as ’n tiener gelees het. 'Dit was een van die redes waarom ek tot teoretiese fisika aangetrokke gevoel het,’ sê hy. Hawking se invloed deurtrek al die aspekte van dié studieveld, van sy klassieke (en onontbeerlike) handboek oor relatiwiteit, The large-scale structure of space-time (wat met die medewerking van die Suid-Afrikaanse fisikus George Ellis geskryf is) tot sy belangrike ontdekking in 1974 dat gravitasiekolke termale straling vrystel.

Hierdie onverwagte resultaat het gelei tot die gevierde Gravitasiekolk-inligtingparadoks wat ná meer as 40 jaar steeds vurige debat ontlok waartoe Hawking self tot kort voor sy dood belangrike bydraes gelewer het.
‘Verskeie van my nagraadse studente werk spesifiek aan die verkryging van ’n beter begrip van van gravitasiekolktermodinamika in verskillende omstandighede met die doel om ’n verduidelik te vind vir die aard van gravitasiekolk-entropie binne die raamwerk wat hoofsaaklik deur Hawking onthul is,’ sê prof Zoubos. Hawking het ook deur sy volgehoue steun aan die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskap (African Institute for Mathematical Sciences (AIMS)), wat in Kaapstad gebaseer is, en die Next Einstein Initiative ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van wetenskap in Suid-Afrika en Afrika gelewer.

In 2008 het hy die bekendstelling van laasgenoemde in Suid-Afrika bygewoon.

Prof Roger Deane verduidelik dat Hawking se merkwaardige lewe getoon het dat wat die mens kan vermag slegs deur sy eie gebrek aan verbeelding beperk kan word. Dit dien as ’n belangrike bron van inspirasie vir ons voortgesette pogings om Hawking se gunstelingverskynsels, gravitasiekolke, hier in die nuwe UP Astronomiegroep, en inderdaad regoor die wêreld, te verstaan.

Prof Chris Theron, Hoof van die Departement Fisika, wat daarvan oortuig is dat Hawking se invloed op hoe ons die wêreld verstaan nie onderskat kan word nie, sê dat Stephen Hawking nie net gedagteprikkelende bydraes tot ons begrip van die natuur gemaak het nie, maar ook passievol was oor die kommunikering van wetenskap en op ’n briljante wyse daarin geslaag het. Deur sy voorbeeld word ons begeester om weetgierig te bly en nooit tou op te gooi nie.

A Brief History of Time was ’n poging om ’n eenvoudige verduideliking te bied van die ingewikkelde kwessies oor waar en hoe die heelal ontstaan en ontwikkel het, en waarheen dit op pad is. Hawking het ons daaraan herinner dat ons na die sterre moet kyk, en nie na ons voete nie; dat ons sin moet probeer maak van wat ons sien en oor die bestaan van die heelal te wonder; dat ons nuuskierig moet wees. Ongeag hoe moeilik die lewe skyn te wees, is daar altyd iets waarmee jy sukses kan behaal. Dis belangrik om nie net tou op te gooi nie.

Hawking se lewe getuig van hoe ver wetenskap kan strek. Hy was ’n kampvegter vir die regte van gestremdes en die bevordering van omgewings- en sosiale volhoubaarheid. Hy het die uitwerking van filosofie op wetenskap en van wetenskap op filosofie as aspekte van kennis bevraagteken en het sy bepaalde platform gebruik om te pleit vir vrede, geregtigheid en die beëindiging van oorloë en onregmatige invalle. Hy was ook ’n voorstander van internasionale samewerking op die gebied van navorsing deur die vrye beweging van mense en toegang tot voldoende sosiale versorging.

Sy betrokkenheid by die gesprek oor politiek, klimaatsverandering en ander noodsaaklike sosiale debatte toon duidelik aan ons dat ons ons nie slegs tot ons akademiese dissiplines hoef te beperk ten einde ’n verskil in die wêreld te maak nie.

 

 

- Outeur Shakira Hoosain
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Konstantinos ZoubosWysig
Stephen Hawking