E-pos ons

FAQ
8 uit 10 leerders kan nog nie op gepaste vlak lees nie
5 Desember 2017

 

Die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) 2016-verslag skilder 'n verontrustende prentjie van leesgeletterdheid in laerskole in Suid-Afrika, met geen beduidende vordering landwyd sedert die vorige verslag in 2011 nie. Die Russiese Federasie en Singapoer was die toppresteerders, maar Suid-Afrika is laaste uit die 50 lande wat aan die studie op Graad 4-vlak deelgeneem het. Dit is volgens die internasionale vergelykende leesassessering wat deur navorsers van die Universiteit van Pretoria (UP) se Sentrum vir Evaluering en Assessering (SEA) gedoen is, wat pas die Suid-Afrikaanse bevindings van hierdie wêreldwye studie oor leesgeletterdheid gepubliseer het.

Wêreldwyd het meer as 319 000 leerders aan PIRLS 2016 deelgeneem. Hierdie derde Suid-Afrikaanse PIRLS nasionale verslag bou voort op tien jaar van intensiewe navorsing oor leesgeletterdheid. Ofskoon die nasionale prestasie oor die algemeen baie laag is, is daar tog 'n straaltjie hoop. Tussen PIRLS 2011 en PIRLS 2016 was daar 'n verbetering in prestasie vir vyf Afrikatale (van die 11 tale wat getoets is) op Graad 4-vlak, ondanks die feit dat dit die tale is wat in die 2011-studie die laagste presteer het.

'Om te kan lees is die sleutel tot akademiese en toekomstige sukses,' sê Celeste Combrinck, waarnemende Direkteur by die SEA. 'As jy nie kan lees nie, sal jou geleenthede op skool of na skool beperk wees, en dit is hoekom daar op 'n baie jong ouderdom met lees begin moet word.'

Die SEA werk ten nouste saam met die International Association for the Evaluation of Educational Achievement (IEA) en die TIMSS & PIRLS International Study Centre by Boston College in die VSA, asook met verskeie ander internasionale navorsingsorganisasies en verenigings in lande soos Kanada en Duitsland, om wêreldwyd oor die PIRLS-studie te koördineer en saam te werk. Aan die einde van 2015 het die SEA die leesbegripsvaardighede van 12 810 Graad 4-leerders in al 11 amptelike tale dwarsoor Suid-Afrika getoets. Voorts is meer as 5 000 Graad 5-leerders in Afrikaans, Engels en Zulu getoets. Hierdie data is deur die internasionale navorsingsgroep geprosesseer en ontleed en toe aan die SEA terugbesorg. Die studie is deur die Suid-Afrikaanse Departement van Basiese Onderwys (DBO) gesteun met gedeeltelike befondsing en beperkte logistieke steun.

Die resultate, wat internasionaal deeglik gevalideer en landwyd nagegaan is om akkuraatheid te verseker, dui daarop dat bykans 80% van Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders laer as die laagste internasionaal erkende vlak van leesgeletterdheid is. Volgens prof Sarah Howie, Nasionale Navorsingskoördineerder (NNK) vir PIRLS 2016 Suid-Afrika, toon dit dat die meeste leerders nie goed genoeg kan lees om in vakke dwarsoor die kurrikulum in Graad 4 en hoër grade te slaag nie.

'Dit is kommerwekkend dat dit die geval is vir alle tale in Suid-Afrika, aangesien minder as 'n kwart van al die leerders die laagste internasionale normvlak bereik het. Minder as die helfte van die leerders wat die toetse in Afrikaans en Engels geskryf het kan lees, maar 80% van dié wat in een van die ander nege amptelike tale leer, kan in effek glad nie lees nie,' sê Combrinck.

Die verslag toon dat die Wes-Kaap, die Vrystaat en Gauteng die beste van al die provinsies gevaar het en dat leesprestasie in Pedi, Xhosa, Tswana en Venda die swakste was. Seuns het ook swakker as meisies gevaar, en 84% van die seuns kon nie die laagste normvlak haal nie, teenoor 72% van die meisies. Die gendergaping is 'n internasionale tendens wat in Suid-Afrika weerspieël word.

Combrinck sê die probleem word waarskynlik gedeeltelik deur twee moeilike oorgange in die vierde skooljaar veroorsaak. Leerders moet van leer om te lees oorskakel na lees om te leer; met ander woorde, daar word van hulle verwag om die taal van leer goed genoeg te verstaan om handboeke en ander skriftelike materiaal te bestudeer. In Suid-Afrika gebeur dit terselfdertyd dat leerders in Afrikataalskole die oorgang van onderrig in 'n Afrikataal na onderrig in Engels moet maak. Hierdie situasie moet feitlik onvermydelik 'n negatiewe uitwerking op leesgeletterdheid in Graad 4 hê.

Die PIRLS-normvlakdata vir Graad 5 staaf hierdie stelling: In een aspek van die studie dui 10-jaarvergelykings met PIRLS 2006 daarop dat Graad 5-leerders vordering gemaak het met leesgeletterdheid in Zulu, asook 'n gekombineerde telling vir Afrikaans en Engels wat konserwatiewe verbeterings toon wanneer hierdie twee tale se resultate gekombineer word. Dit dui daarop dat leesgeletterdheid kan verbeter na 'n ekstra jaar om 'n nuwe taal te leer hanteer (hoewel leerders steeds ver onder die internasionale gemiddelde is).

In 'n kleinskaalse aanlyn-leesgeletterdheidstudie wat nie veralgemeen kan word nie net in Engels in Gauteng (ePIRLS) het leerders in aanlyn-leesgeletterdheid net so goed gevaar as in papiergebaseerde assesserings. Net 14 lande het internasionaal deelgeneem as gevolg van die moeilike aard van die projek.

Saam met die leesgeletterdheidstoetse het SEA-navorsers ook meer as 1 000 ander faktore in die skool, klaskamer en tuisomgewing ondersoek om potensiële redes te kry vir die leesprobleme wat hulle opgemerk het en om die Suid-Afrikaanse leeromgewing beter te verstaan.

Onder die PIRLS 2016-bevindings tel die volgende:

  • 90% en meer van leerders wat in Tswana en Pedi skryf, het nie die laagste normvlak gehaal nie.
  • Leerders wat in een van die nege Afrikatale skryf, het die laagste gemiddelde punte behaal, wat beduidend laer was as dié wat in Afrikaans of Engels skryf. Kinders wat in Xhosa en Pedi skryf, het die hoogste risiko.
  • Graad 4-leerders in afgeleë landelike gebiede of townships het die laagste leesgeletterdheidstellings vergeleke met ander liggings.
  • Klasse word al hoe groter. In die Graad 4-studie was die gemiddelde klasgrootte 45 leerders per klas, en 55 in Limpopo, vergeleke met 24 leerders per klas internasionaal.
  • Minder jong onderwysers tree tot die stelsel toe. Die meeste leerders word deur ouer onderwysers onderrig, maar daar is geen verband met leerders se leesgeletterdheidspunte nie.

'Die groepe wat die grootste risiko ondervind, is dié in die afgeleë landelike gebiede en townships, dié wat in Afrikatale leer en seuns,' sê Combrinck. Sy hoop hierdie studie sal lei tot 'n proses om hierdie uitdagings die hoof te bied.

Een manier hoe die SEA probeer om die probleem te hanteer, is deur 'n diagnostiese ontleding en die ontwikkeling van materiaal vir die DBO. Hierdie hulpbronne sal in vennootskap met ervare onderwysers ontwikkel word en sal materiaal en hulpbronne verskaf wat onderwysers dwarsoor Suid-Afrika sal help om die manier hoe hulle lees en leesbegrip op laerskoolvlak onderrig, te verbeter.

Die PIRLS-resultate kan ook deur Suid-Afrikaanse universiteite gebruik word en sal kritiese besinning oor hul kurrikulums vir onderwysersopleiding vir taal en leesontwikkeling moontlik maak.

Howie hoop dat haar span genoeg gedoen het om die omvang van die probleem te toon en dat andere daarop sal voortbou. 'Ons kan bewyse lewer en voorstelle maak, maar ander kenners moet nou voortbou en die werk doen,' sê sy. 'As ons eendersdenkende mense met eerbare bedoelings kan byeenbring wat fondse en hulpbronne vir onderwys doeltreffend kan gebruik, is daar geen rede waarom ons dit nie kan regstel nie, hoewel dit tyd en harde werk sal vereis.'

 

Besoek Research Matters om meer te lees oor die PIRLS-projek.

 

 

- Outeur Departement Universiteitsbetrekkinge
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Ansa HeylWysig