E-pos ons

FAQ
Rekenaarghoeroe kry eredoktorsgraad van Universiteit van Pretoria
24 April 2015

Prof Marco Dorigo het die komplekse sosiale gedrag van miere bestudeer en dit op rekenaarwetenskap toegepas om moeilike kombinatoriese optimeerprobleme op te los. Sy sogenaamde mierkolonieoptimering (MKO)-algoritme kan berekeningsprobleme oplos deur die kortste roete deur grafieke te kry net soos miere, wat net feromone gebruik om te navigeer, die kortste pad tussen hulle nes en ’n voedselbron kry.

Hy beskryf die ontstaan van die algoritme soos volg: ‘Ek het aan ’n klomp eenvoudige kunsmatige agense gedink wat werklike mieregedrag naboots om moeilike wiskundige probleme op te los. Hoewel dit toe soos ’n mal idee geklink het, word dit vandag selfs deur professionele teoretiese rekenaarwetenskaplikes en sagteware-ingenieurs aanvaar.’

Prof Dorigo is Navorsingsdirekteur van die FNRS, die Belgiese Nasionale Fonds vir Wetenskaplike Navorsing, en Mededirekteur van IRIDIA, die kunsmatige-intelligensielaboratorium van die Vrye Universiteit van Brussel (Université Libre de Bruxelles). Sy huidige navorsingsbelangstellings sluit in swermintelligensie, swermrobotika en metaheuristiek vir diskrete optimering.

Hy is ook ’n genoot van die Instituut van Elektriese en Elektroniese Ingenieurs (IEEE – Institute of Electrical and Electronics Engineers), die Genootskap vir die Bevordering van Kunsmatige Intelligensie (AAAI – Association for the Advancement of Artificial Intelligence) en die Europese Koördineringskomitee vir Kunsmatige Intelligensie (ECCAI – European Coordinating Committee for Artificial Intelligence). Prof Dorigo het al talle internasionale pryse ontvang ter erkenning van sy wetenskaplike bydraes.

Prof Dorigo moedig rekenaarwetenskapgegradueerdes aan om navorsing en wetenskap as moontlike alternatiewe vir 'n korporatiewe loopbaan te oorweeg. Hy sê om 'n suksesvolle navorser of wetenskaplike te wees, moet jy kreatief, selfversekerd en passievol oor die werk wees. ‘Jy moet slim, want jy moet verstaan wat ander baie slim mense voor jou ontdek het. Kreatiwiteit is ook fundamenteel vir die navorsingsproses. As jy nie kreatief is nie, kan jy 'n uitstekende dosent wees maar nie 'n uitstekende navorser nie,’ sê hy.

Hy moedig gegradueerdes aan om, in enige werk wat hulle doen, 'n verskil te maak in die lewe van diegene wat minder bevoorreg is. ‘Onthou hoe bevoorreg ons is om hier te wees. Ons behoort tot 'n elitegroep, en dit is grotendeels nie op verdienste nie. Ons moet dus nooit vergeet dat ons van die gelukkiges is nie en dat ons tot diens moet wees van diegene wat minder gelukkig is. Moenie vergeet om 'n deel van jou energie te bestee om 'n beter wêreld met minder ongelykheid en minder onreg te bou nie,’ het hy afgesluit.

 

- Outeur Departement Universiteitsbetrekkinge
Deel hierdie blad
Geredigeer deur Hans GroblerWysig
Van links na regs: Prof Marco Dorigo, prof Sunil Maharaj (dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en IT) en prof Wiseman Nkuhlu (Kanselier van die Universiteit van Pretoria)