E-pos ons

FAQ

JT-inspirasie

 

Ons hoop die volgende stories sal jou inspireer en aanmoedig om hard te werk met onwrikbare vasberadenheid om jou drome na te streef:


JuniorTukkies vang graad

 

Baie geluk aan al ons JuniorTukkies wat gedurende April 2016 gegradueer het - ons is baie trots op julle!

Klik hier en lees meer oor 'n paar van ons JuniorTukkies se wonderlike reise in aanloop tot die verkryging van hul grade.

 

 


Wenke om nuwe semester uitdagings aan te pak

Soos julle weet, is die uitdagings aan die begin van 'n nuwe semester, geneig om dieselfde te wees. Hier is 'n paar wenke wat jou kan help in die beplanning van jou nuwe semester:

  • Begin jou semester met 'n positiewe gesindheid.
  • Dink na oor die afgelope semester, wat jy anders kon gedoen het en hoe jy jou akademiese prestasie kon verbeter het. Die antwoorde op hierdie vrae kan jou help in die opstel van nuwe doelwitte vir hierdie semester om sodoende beter gemotiveerd te wees. 'n Goeie begin is geneig om na 'n goeie einde van die semester te lei!
  • Maak seker van jou verpligtinge en take aan die begin van elke week en aan die begin van elke dag.
  • Dagboek belangrike akademiese spertye en inligting wat jy gedurende die kwartaal nodig sal hê.
  • Teken herhalende gebeure en take – beide akademies en persoonlik – soos weeklikse tutor klasse, verfklasse, gim-sessies, dansklasse, ens in jou dagboek aan.
  • Maak voorsiening in jou kalender vir onvoorspelbare gebeure soos  familie noodgevalle of ongeskeduleerde toetse.
  • Maak tyd vir rus en ontspanning – elke student het slaap nodig!
  • Oefen gereeld, spandeer tyd saam met vriende en skakel jou familie op ‘n gereelde basis. Dit kan jou baie help om nuwe-semester-angs te bowe te kom.
  • Die identifisering van realistiese en spesifieke akademiese en persoonlike doelwitte kan help om jou te motiveer. Probeer om positief te bly, en vier elke doel wat jy bereik. Jy verdien dit!

Sterkte met jou studies.

Die JuniorTukkie-span


Minét Uys: Top matrikulant in Gauteng

Minét Uys, een van ons JuniorTukkies en tans ʼn eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, was Gauteng se top matrikulant in 2015. Sy het aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria gematrikuleer en ingestem om haar suksesverhaal met JuniorTukkie te deel.

“Ek het in 2013 as ʼn Graad 10-leerder by JuniorTukkie aangesluit. Die JuniorTukkie-klub bied baie voordele aan sy lede. Ek het gereeld deur die JuniorTukkie-tydskrif geblaai en gewoonlik ʼn hele paar waardevolle, nuttige feite opgetel. Om goeie punte te kry, of eintlik om sukses in enigiets te behaal, verg ʼn ‘bietjie ekstra’. In Graad 8 het ek angstig my rapport oopgemaak, want almal het gesê dat ʼn mens nie dieselfde punte moet verwag as wat jy in die laerskool behaal het nie. My rapport het nie sleg gelyk nie, maar dit was nie wat ek wou gehad het nie. In plaas daarvan om my punte te aanvaar, het ek besluit om harder te probeer. Dit beteken nie noodwendig dat ʼn mens ure en ure voor jou boeke moet deurbring nie. Die eerste stap gebeur in die klas: Moenie sommer goedsmoeds van die skool af wegbly nie; let op wanneer die onderwysers iets verduidelik; en as jy onseker is, vra! As die ʼn onderwyser se verduideliking onvoldoende is, vra jou vriende. Omdat hulle heel waarskynlik met dieselfde ding gesukkel het, weet hulle hoe om dit aan iemand anders te verduidelik.

Die tweede belangrike punt is hoe jy jou tyd bestuur. Wat doen jy na skool? Ek het gevind dit is beter om aan sport- of kultuuraktiwiteite deel te neem. Dit verskaf ʼn blaaskans – ʼn tydjie om te ontspan en nie oor akademie te dink nie en tyd om saam met jou vriende deur te bring. Ek het aan verskeie sportsoorte deelgeneem, onder andere atletiek, hokkie, swem, landloop, bergfietsry en karate. So dit is moontlik om akademies te presteer en aan sport deel te neem. Ek het selfs my Protea-kleure in karate ontvang. Om deel van ʼn span te wees, het my blootgestel aan verskillende mense, kulture en denkwyses. Sport was vir my ʼn groot uitlaatklep en deur deel te neem aan kultuuraktiwiteite soos openbare redevoering het ek my kennis op ʼn genotvolle manier verbreed. Dit het my ook dinge geleer wat ek nooit in skool sou kon leer nie.

Derdens: begin dadelik met jou huiswerk. Moenie eers TV kyk of gaan slaap nie, want van uitstel kom afstel! Jy moet ʼn basiese idee hê van wat jou week inhou, sodat jy jou tyd so kan beplan dat jy by jou huiswerk, take en leerwerk gaan uitkom, sonder om elke aand tot laat te werk. Almal het verskillende maniere van leer – sommige mense verkies dit om sonder kleur en met tabelle te werk, terwyl ander verkies om die werk aan iemand anders te verduidelik. Vind uit wat vir jou werk en hou daarby.

My raad vir enige skolier vir die komende jaar, maar veral vir matrieks, is om in alle aspekte van jou skoollewe voluit te gaan. Werk hard aan jou akademie, neem deel aan kultuur en sportaktiwiteite en maak ook tyd vir jou vriende. Geniet alles wat 2016 vir jou bied en handhaaf  ʼn balans. Laaste, maar definitief nie die minste nie, bly positief – dit is die enigste manier hoe jy gemotiveerd gaan bly!”

Minét Uys

 


 

David Mahlangu behaal uitstekende matriek-eksamenuitslae

► Klik hier en lees meer oor David Mahlangu se prestasies.

 

 

 

Harnas van Hoop: JuniorTukkies skep slim bewegings

Twee van ons JuniorTukkie-lede, Derick De Villiers Basson en Henrique de Lange, het op 19 September 2015 die "Tritech Expo Health Science Senior Division" gewen en ook as algehele wenners weggestap met hulle Harnas van Hoop-projek. Die harnas is ontwikkel om paraplegiese sowel as gestremde kinders te help om die vreugde van loop te ervaar.

Henrique de Lange (links) en De Villiers Basson (regs) met hulle
Harnas van Hoop-uitstalling by die "Tritech Expo"

 

Hoe werk dit?

Die harnas is soortgelyk aan ‘n baba-drasak ("kangaroo pouch") wat met verlengde gespes aan die volwassene se harnas vasgemaak word. Hierdie twee JuniorTukkies het aanvanklik met ‘n gewone tweedehandse “kangaroo pouch” begin, totdat ‘n patent en patroon ontwerp is wat nou reeds geregistreer is. Die volwassene se harnas is so ontwerp dat dit die gewig van die kind eweredig versprei tussen die skouers en die middel – soortgelyk aan ‘n staptoer-rugsak. Twee paar skoene word met een sool aanmekaar vasgemaak. Die kind sit dan met gemak in die harnas, wat verstelbaar is volgens die kind se gestremdheid. Daar kan ook minder of meer gewig op die kind se bene geplaas word soos nodig. ‘n Paraplegiese kind kan met gemak sy volle gewig in die harnas sit, terwyl ‘n kind met gestremdheid wat in ‘n loopprogram is, se harnas gestel kan word sodat die kind van sy eie gewig op sy heupe dra. Die volwassene se voete pas in die skoene aan die buitekant en die kind se voete pas in die skoene aan die binnekant. Wanneer die volwassene dan sy knieë oplig om treë te gee, volg die kind se bene outomaties, ongeag sy gestremdheid. Die harnas is reeds deur 5 kinders met verskillende gestremdhede gebruik en dit het ‘n groot verskil in hulle lewens gemaak.

Estelle Vorster – 'n familie-lid se baba wat ons in ons proewe gebruik het voordat ons dit op gestremde kinders getoets het. Hier het ons die harnas met die loopraam getoets:

De Villiers en Henrique beoog om die harnas in die loopraam sodanig te verbeter sodat die kind se voete op twee individuele plate vasgemaak kan word. Die plaat het dan ‘n stadige heen-en-weer beweging wat ‘loop’ naboots en ook help vir ekstra oefening. Hul navorsing het bewys dat dit vele gesondheidsvoordele vir die kinders inhou, soos verbeterde spysvertering, beter bloedsomloop, vermindering van druksere, en nog meer.

 

Die eerste toets was op Lyonell Coetzee gedoen. Sy is 2 jaar en 6 maande oud en ly
aan 
Hipermobiliteit:

 

Charlene Els, 4 jaar oud en gebore met serebrale gestremdheid.
Hier ervaar sy vir die eerste keer in haar lewe die vreugde om te kan loop:

 

Meyer Beukes – 4 en 'n halfjaar oud, saam met sy ma, Kayla Beukes terwyl die harnas getoets word. Meyer is gebore met Spina Bifida en is paraplegies:

 

 

Dit is hoe die skoene lyk wanneer hulle aanmekaar vasgemaak is:

Die finale produk - die harnas:

 

“As Junior Tukkie, is die Universiteit van Pretoria my eerste keuse van universiteit nadat ek my laaste skooljaar voltooi het en daarom wil ek graag my opgewondenheid met Tukkies deel. Ek is nie net opgewonde oor ons prestasie as wenners nie, maar meer oor die verandering wat ons tot dusver in 5 kleuters en hulle gesinne se lewens gemaak het. Terwyl ons die eksperimente gedoen het, was dit ongelooflik emosioneel, en dit het vir my ‘n wêreld oopgemaak wat ek nog altyd geweet het bestaan, maar dit nooit beleef het nie. Om ‘n ouer se vreugde te sien wanneer haar vierjarige serebraal-gestremde dogtertjie vir die eerste keer die kans kry om te ervaar hoe dit voel om te loop, was ongelooflik! Persoonlik beteken die projek vir my ongelooflik baie aangesien beweging ‘n groot deel van my lewe is. Ek is ‘n 800m-atleet wat hard werk om volgende jaar SA o/17 te wen. Hierdie projek het my laat besef dat ek dit wat ek het, nooit as vanselfsprekend moet aanvaar nie.”
                                                                                                                                                                     De Villiers Basson

 

Wat ‘n ongelooflike voorreg om deel te wees van so ‘n fantastiese projek! Vir my was die konsep absoluut ‘n openbaring!  Ek is geseend met ‘n hardloop-talent, en daarom het ek soveel empatie met elkeen van die kinders waarmee ons gewerk het.  Ek stel belang in ‘n loopbaan in menslike bewegingskunde  en daarom het hierdie projek soveel meer vir my beteken.  Ek het ‘n passie vir kinders en sal graag eendag die geleentheid wil hê om ‘n bydrae te lewer om sodoende hul lewens positief te beinvloed.  Die fokuspunt van ons projek was om hoop en vreugde te bring – ons het 100% in ons doel geslaag!
                                                                                                                                                                     Henrique de Lange

Deel hierdie blad
Geredigeer deur Martha KilianEdit