E-pos ons

FAQ

Nuus

FAKULTEIT NATUUR- EN LANDBOUWETENSKAPPE

BVerbruikerswetenskap (Gasvryheidsbestuur)-studente bied 'n driegang-fynproewerete aan as deel van hulle formele opleiding


Hoewel die bereiding van voedsel vir meer as 90 mense altyd 'n uitdagende taak is, is dit juis dié soort uitdaging waarvan die vierdejaarstudente in BVerbruikerswetenskap (Gasvryheidsbestuur) aan die Universiteit van Pretoria (UP) begin hou nadat hulle oor die afgelope drie maande talle funksies op hierdie skaal aangebied het.

              

 

Op 16 April het die groep te staan gekom voor die vooruitsig om 'n driegang-fynproewerete in 'n tent by Canvas and Tent by die Denel-sakepark in Centurion aan te bied as deel van hulle formele opleiding, pleks van te werk in die gerief van hulle bekende grootskaalse kombuis op die kampus met die eetsaal net 'n klipgooi daarvandaan. Dit het intense beplanning en oorweging van alle moontlike gebeurlikhede vereis, insluitende 'n aantal logistieke uitdagings, waarvoor ’n uitsonderlike verantwoordelikheidsin en sterk leierskap nodig was. Sekere elemente van die geregte is vooraf in die voedsellaboratoriums van die Departement Verbruikerswetenskap berei, en ander elemente is in Canvas and Tent se vliegtuigloodsdektent berei, waar die studente die geleentheid gehad het om die Turkse maatskappy Ozti se veldkombuis in te wy vir militêre verteenwoordigers van dwarsoor Afrika.

                                                   

Die studente-sjefs het die geleentheid benut om die verskillende soorte kosmaaktoerusting wat deel van die veldkombuis uitmaak op die proef te stel en het pampoenkoekies op die draagbare roosterplaat gemaak, 'n gerolde skaapboud in die oond gebraai en heerlike romerige stampmielies en marog in die diepbraaipanne gemaak. Terwyl die gaste in afwagting buite vertoef het, is die loodstent (wat vol rook gepomp is) oopgemaak onder luide musiek en die uitgelate applous van die gaste.

 

Die studente het die unieke leergeleentheid van hierdie gebeurtenis waardeer en dit het hulle met ‘n trotse gevoel gelaat dat hulle 'n genotvolle ete verskaf het aan ‘n gehoor wat dit waardeer het en 'n kliënt wat baie beïndruk is. Almal wat by hierdie projek betrokke was, moet gelukgewens word dat hulle 2015 se eerste gebeurtenis buite die kampus met groot sukses aangebied het.

Deel hierdie blad
Geredigeer deur Martha KilianEdit