E-pos ons

FAQ

Boodskap van die Dekaan

Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, wat in 1917 gestig is, vier in 2017 sy eeufees. Die Fakulteit het sedert sy instelling as 'n fakulteit met volle akademiese status ontwikkel, en nie as 'n teologiese kweekskool nie, en is dus die oudste volwaardige teologiefakulteit in Suid-Afrika.

Die vroegste beslissende stelling met betrekking tot die aard van die Fakulteit, wat destyds geesdriftig ondersteun is, is waarskynlik in 1888 deur ds MJ Goddefroy gemaak toe hy teologiese opleiding as van akademiese aktiwiteit bestempel het; dus as opleiding wat deur ’n fakulteit aan ’n universiteit aangebied moes word, en nie deur ’n kweekskool nie:

‘Wij moeten een Hoogeschool hebben – geen Kweekschool ... een kweekschool is tegen ons Ned Herv beginsel. In onze kerk word nooit leeraars toegelaten of zij moesten hunne opleiding aan een werklijke universiteit gehad hebben.’

Dit toon die aard van Teologie aan die Universiteit van Pretoria, en die uitgangspunt van intellektuele bevraagtekening is ’n onomstootlike waarde wat deur die Fakulteit nagestreef word.

Die vernaamste rolspelers gedurende die eerste honderd jaar van die Fakulteit se geskiedenis was die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) sedert 1917, en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (NGKSA) sedert 1938. Die Presbiteriaanse Kerk van Suider-Afrika (PKSA) was ook in die eerste vyf jaar betrokke.

Op 1 Januarie 2000 het die twee afsonderlike afdelings saamgesmelt om die huidige multikerk-fakulteit te vorm. Die Fakulteit word tans amptelik as ’n opleidingsinstelling erken deur die NGKSA (NG Kerk), NHKA (Hervormde Kerk), VPKSA (Verenigde Presbiteriaanse Kerk), EPKSA (Evangeliese Presbiteriaanse Kerk), VGKSA (Verenigende Gereformeerde Kerk), ACSA (Anglikaanse Kerk), FELSISA (Lutherse Kerk) en die CTBS (Baptistekerk).

Ooreenkomstig die UP 2025 Strategiese Plan het die Fakulteit ’n Fakulteitsnavorsingstema ontwikkel en die uitdagende konsep Ekodomie gekies as ’n sambreelterm vir sy fokus op Lewe in sy Volheid. Wêreldwye geregtigheid omvat die skepping in sy geheel, die menslike en die niemenslike wêreld. Met hierdie allesinsluitende bepaling verwoord die Fakulteit sy visie en sy uitdagings vir die volgende 100 jaar. Dit maak voorsiening vir ’n versoenende verskeidenheid wat die Fakulteit in al sy navorsing, onderrig en leer daadwerklik omvat en bevorder.

Die eeufeesvierings, waarvan hierdie prestigepublikasie ’n belangrike deel is, bied dus aan ons ’n wondrelike geleentheid om sowel die huidige oriëntasie as die toekomstige profiel van die Fakulteit te herbevestig. Twee woorde wat na my mening kenmerkend van hierdie hele onderneming moet wees, is inklusiwiteit en diversiteit. Dit word duidelik in die visie en missie van die Fakulteit verwoord:

Visie: Om ’n fakulteit te wees wat erken word vir sy betrokkenheid by lewegewende teologie en religieuse insig, van diens aan die akademie, kerk en gemeenskap.

Missie: Om dit te verwesenlik, verbind ons ons daartoe om –

  • relevante teologiese en religieuse opvoeding te verskaf;
  • transformerende leiers te kweek;
  • kwaliteitnavorsing te doen;
  • geregtigheid, vrede, die integriteit van die skepping en ’n versoenende diversiteit te bevorder; en
  • by mense aan die rand van die samelewing betrokke te raak.

Die Eeufeeskomitee het ’n tema vir die vierings gekies: ‘Oopmaak van die hekke …’. Die missie van die Fakulteit is om teologie op so ’n wyse te beoefen dat die liefde van God almal bereik. In die verlede is die hekke vir die gemarginaliseerdes toegemaak as gevolg van ideologieë soos nasionalisme, rassisme, seksisme, dogmatisme en homofobie. In baie gevalle was teoloë aan die Universiteit van Pretoria voorstanders hiervan. Maar daar was ook ander. God het die hekke egter oopgemaak. Die uitdaging is om te erken dat God altyd die hekke sal oopmaak en dat die boodskap ondanks weerstand sal voortgaan op die pad van radikale inklusiwiteit.

Ongeag hoe belangrik die afgelope honderd jaar was, moet enige eeufeesvierings die klem plaas op die eeu wat voorlê. Die geskiedenis is nie ’n bestemming nie, maar ’n oriëntasie. Dit is ’n voorvereiste vir verantwoordelike triangulasie met betrekking tot die toekoms.

Ek betuig graag my innige dank teenoor professor Graham Duncan en sy span vir die saamstel van hierdie uitstekende publikasie. Hy het daarin geslaag om die klem te plaas waar dit hoort, naamlik op toeganklikheid en die oopmaak van hekke vir ’n inklusiewe toekoms.

Professor Johan Buitendag

Dekaan

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Deel hierdie blad
Geredigeer deur Judith FourieEdit