E-pos ons

FAQ

Universiteit word 110

Die universiteit word 110 in Februarie 2018. Dit is ’n wêreldklas universiteit en lewer een van die grootste navorsingsuitsette in Suid-Afrika en in Afrika. Die Universiteit is uniek in die sin dat dit die enigste universiteit in die land is wat ’n Fakulteit Veeartsenykunde het. Hierdie fakulteit word hoog aangeslaan in Afrika.

Die Universiteit het in 1908 begin as die Pretoria-tak van die Transvaalse Universiteitskollege (TUK). Dit het in 1930 ’n volwaardige universiteit geword, en die omgangstaalnaam van die Universiteit, Tukkies of Tuks, is van die kollege se akroniem – TUK – afgelei. Die Mamelodikampus van die Vista-universiteit is in 2004 in die Universiteit opgeneem.

Die Universiteit het sewe kampusse, meer as 53 000 studente, nege fakulteite en ’n sakeskool. Die fakulteite is soos volg:

  • Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
  • Opvoedkunde
  • Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie
  • Gesondheidswetenskappe
  • Geesteswetenskappe
  • Regsgeleerdheid
  • Natuur- en Landbouwetenskappe
  • Teologie
  • Veeartsenykunde, en die
  • Gordon Institute of Business Science (GIBS).

Die Universiteit het 120 akademiese departemente en bied 1 213 studieprogramme, 230 grade, sertifikate en diplomas, 166 voorgraadse programme en 1 047 nagraadse programme aan, met meer as 35 sportkodes. Die Universiteit het reeds meer as 365 500 kwalifikasies toegeken en meer as 267 000 alumni opgelewer, van wie baie ’n hoë posisie in die sakewêreld en in die samelewing beklee.

UP lewer gegradueerdes van hoë kwaliteit op wat toegerus is om sukses te behaal in ’n snel veranderende wêreld. Volgens die Times Higher Education-ranglys vir regsvakke was die Universiteit in 2017 in die 92ste posisie, en volgens die QS World University Rankings vir 2018 is die Universiteit nou onder die top-52% van die instellings op die ranglys.

Die QS World University Rankings gradeer die voorste tersiêre instellings dwarsoor die wêreld aan die hand van verskeie aanwysers, insluitende akademiese reputasie, werkgewerreputasie, die aantal aanhalings per fakulteit, die student-tot-fakulteit-verhouding en die aantal fakulteite en studente.

 Die Universiteit tel ook onder die top-40 universiteite in die BRICS-streek en die topdrie in Suid-Afrika, volgens 2018 se QS University World Rankings.

 

 

Deel hierdie blad
Geredigeer deur Buyisiwe NkonyaneEdit