E-pos ons

FAQ

Boodskap van die Visekanselier en Rektor

Baie welkom en dankie vir u belangstelling in die Universiteit van Pretoria (UP). Ons is 'n diverse en dinamiese universiteitsgemeenskap met studente van oral oor Suid-Afrika en ʼn groeiende getal internasionale studente.

Die Universiteit van Pretoria is ʼn toonaangewende, navorsingsintensiewe universiteit wat trots is op sy akademiese uitnemendheid en die bydrae van sy navorsers om oplossings te vind vir plaaslike en wêreldwye uitdagings. As jy ʼn onafhanklike denker is wat gretig is om nuwe kennis te ontdek en te skep wat ʼn verskil in jou gemeenskap en in die wêreld kan maak, dan is UP ʼn plek waar jy kan uitblink.

UP-studente word kortweg Tukkies genoem en as 'n Tukkie is jou akademiese loopbaan en toekomstige werkgeleenthede vir ons belangrik. ʼn UP-graad is gesog in die arbeidsmark omdat werkgewers en kundiges in die bedryf weet hulle kan staatmaak op die gehalte van die Universiteit van Pretoria se gegradueerdes. Ons grade word internasionaal erken en is gestruktureer soos dié van die wêreld se beste universiteite. Elke jaar gradueer daar meer studente aan UP wat goed voorberei is en ʼn bydrae lewer in die bedryfswêreld, die regering en openbare sektor en in nieregeringsorganisasies.

Die Universiteit handhaaf ʼn holistiese benadering tot onderwys. Ons akademiese aktiwiteite word verryk deur betekenisvolle gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking met ander instellings, die regering en industrie en ons moedig al ons studente aan om deel te neem aan ten minste een van die baie kuns-, kultuur- en sportaktiwiteite wat deur die Universiteit aangebied word.

 

Professor Cheryl de la Rey
Visekanselier en Rektor

Deel hierdie blad
Geredigeer deur Zamandina MthembuEdit